Life

Stories

Dis’ maar ‘n kort een hierdie (en die taal en spelling is glad nie perfek nie) – maar ek het belowe en hier is dit.

Nita, dis’ vir jou en vir die romanse van “Die Taal”.

Toe ek nog baie klein was nog net ‘n pikkie, met groen oggies en lang poniesterte – het ons aande spandeer rondom kombuistafel en kaart gespeel. En nie net het ons kaart gespeel en die koekies wat my Ma geknie en gebak het met dik snye plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt geëet nie, maar ons het ook gesels. Gesels en stories vertel.

Stories vertel – en geluister na die VOF (Vroulike Ouer Figuur) se sussende stem wat ons stadig aan die slaap sus en weg dra na donker sterretjieskamers waar die donker kon ronddans om die karakters in die stories.

Storievertel is ongelukkig ‘n kuns wat mense nie altyd meer verstaan nie. Die kuns van stories vertel, sonder om dit uit ‘n boek te lees en sonder om vloekwoorde daar deur te saai, is iets wat ek mis. Die vermoeë om met hande en oë en stemtoon ‘n lang storie te vertel wat kinders se oë laat rek en hul hoendervleis gee, is ‘n talent wat ek so lanklaas gesien en gehoor het. En ja, mense skryf stories en dit word verwerk en televisiereekse en films word daarvan gemaak en mense gebruik ander media om stories te vertel; ek self gebruik fotos om stories te vertel wanneer die woorde my ontgaan.

Dit is steeds een van my gunsteling tydverdrywe: om saam met my familie te sit, met elmboë op die hout van die tafel gestut; vuil borde van die aandete weggestoot en ‘n lekker koppie tee of koffie in die hand. Of saam met vriende, glas wyn in die hand, sigaret wat iewers in ‘n asbak krul-wolkies maak.

My Ma skryf deesdae ván haar stories en gedigte neer. Sy het alpryse verwerf daarvoor maar haar stories bly nog steeds so eenvoudig, maar treffend soos toe ek nog ‘n laaitie was. Vol avontuur en raaisels. Ek hoop dat ek eendag ook soos sy kan stories vertel. Stories wat ‘n liefde in kinders se harte sal laat vir lees en luister.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *